Esra 6:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Darius het toe gesê hulle moet in die plek waar die koning se geskiedenisse en ander belangrike dinge in Babel gebêre word, gaan kyk of daar so iets is.

2. Dit was uiteindelik in Ekbatana, die hoofstad van die provinsie Medië, waar hulle op die boekrol afgekom het waarin die besluit opgeteken was.

3. Koning Kores het in die eerste jaar dat hy koning was, opdrag gegee dat die huis van God in Jerusalem gebou moet word as ’n plek waar daar altyd offers geslag en offers op die altaar verbrand kan word. Die tempel moet 30 meter hoog en ook 30 meter breed wees.

4. Na elke drie lae bouklip moet daar houtbalke in die mure gesit word. Die geld wat nodig is om die tempel te bou moet uit die staat se geld kom.

5. Alles van goud en silwer wat Nebukadnesar uit die tempel in Jerusalem weggevat het na Babel toe, moes teruggegee word sodat hulle weer na hulle regte plek in die tempel in Jerusalem kan teruggaan.

6. Darius het teruggeskryf:Tattenai, goewerneur van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en al die ander Persiese amptenare van Wes-Eufraat, julle moet daardie mense met rus laat.

7. Moenie hulle gaan pla en gaan inmeng met die bouery aan die huis van God nie. Laat die goewerneur van Juda en sy leiers toe om die huis van hulle God op sy ou plek te bou.

8. Ek maak ook nou ’n nuwe wet. Julle moet die Judese leiers help om die tempel vir hulle God te bou. Julle moet uit die belasting wat in Wes-Eufraat betaal word, vir hulle geld gee sodat hulle met die werk kan aangaan en dit kan klaarmaak.

9. Julle moet elke dag vir die priesters in Jerusalem alles gee wat hulle nodig het om vir die God van die hemel te offer. Daar moenie te min bulle, ramme en lammers, koring, sout, wyn of olie wees nie.

10. Hulle moet vir die God van die hemel alles kan offer wat Hy wil hê. Hulle moet vir my en my seuns bid dat die Here ons voorspoedig sal maak.

11. Ek maak ook ’n wet dat enigiemand wat nie met my opdrag wil saamwerk nie, aan ’n houtbalk wat uit sy eie huis kom, opgehang moet word. Sy huis moet ’n ashoop gemaak word.

Esra 6