11. Sewentig van Israel se leiers het daar in die versteekte kamer gestaan, met Jaäsanja, Safan se seun, tussen hulle. Elkeen van hierdie mense het wierook gebrand om die afgode te eer wat hulle aanbid het. Die hele kamer was sommer al donker van al die wierook.
12. Toe sê die Here vir my: “Mens, het jy gesien wat die leiers van Israel stilletjies in die donker doen, en hoe hulle ’n huis vir hulle eie afgode ingerig het? Hulle dink Ek sien hulle nie, al doen hulle dit in my huis. Hulle dink Ek is nie meer in die land nie.”
13. En toe sê die Here verder vir my: “Ek gaan jou dinge wys wat die volk doen wat selfs nog afskuweliker is as dit!”
14. Toe vat die Here my na die deur aan die noordekant van die huis van die Here. Daar het ’n klomp vroue gesit. Hulle het gehuil omdat ’n afgod kwansuis op dié dag dood is, en die afgod Tammus gesê het hulle moet huil.
15. “Het jy al ooit so iets in jou lewe gesien?” vra die Here. “Maar kom Ek gaan wys jou selfs nog groter slegte dade as dit!”
16. Toe vat die Here my binne-in sy huis in. Daar het 25 mans gestaan, met hulle rûe na die huis van die Here gedraai. Hulle het na die oostekant gekyk waar die son opkom. Hulle het die son aanbid!
17. “Het jy dit gesien, mens?” vra Hy. “Moet Ek maak of dit sommer niks is nie dat my volk sulke verskriklik slegte dade doen? En nou doen hulle boonop ook gewelddadige dade teen ander mense. Hulle steur hulle net mooi niks aan My nie. Ek is woedend oor wat hulle doen!