12. Ja, die dag dat die oordeel aanbreek, het nou gekom. Dit is vandag. Mense wat dink dat hulle vandag nog iewers ’n winskoop raakgeloop het in ’n saketransaksie, moenie daaroor bly wees nie. En mense wat besigheid doen en ’n verlies gemaak het, moenie daaroor huil nie. Want hulle almal gaan my straf ervaar.
13. En as enigiemand wat besigheid doen die ramp sou oorleef, sal hulle in elk geval nooit weer kan terugkeer na hulle besigheid nie. Want wat God gesê het, geld vir almal. Hulle is almal ewe skuldig voor My oor hulle slegte dade. Niemand sal op die ou end bly lewe nie.
14. “Die hele weermag van Israel is opgeroep om te kom veg, maar die geveg sal nie eens begin nie. Want voor jy kan begin veg, tref my straf almal wat in die land woon.
15. Almal wat uit die stad wegvlug, sal deur vyande rondom die stad doodgemaak word. En die mense wat in die stad bly, sal doodgaan van hongersnood en dodelike siektes.
16. Die paar mense wat oorleef en na die berge vlug, sal soos tortelduiwe klink wat koer soos hulle huil oor hulle sondes.
17. Mense sal nie hulle hande kan optel nie en hulle bene sal kragteloos onder hulle padgee.
18. Hulle sal hulle aantrek asof hulle op pad is na ’n begrafnis. Hulle sal heeldag bang wees. Hulle sal bewe vir enigiets wat hulle sien. En hulle sal hulle klaarmaak om as gevangenes na ’n vreemde land weggevat te word.