Esegiël 27:9-25 Die Boodskap (DB)

9. Die beste ambagsmanne het op die skip gewerk om enige lekplek dadelik toe te stop. Al die skepe wat op die see gevaar het, het die een of ander tyd ’n draai by Tirus gemaak. Jy was die middelpunt van die aarde se besigheid.

10. En mense oor die hele wêreld het in jou weermag gedien. Hulle het gekom van lande so ver as Paras, Lud en Put. As hulle hulle wapens teen die mure van die stad opgehang het, het almal gesê: ‘Dis ’n groot en sterk stad dié!’

11. Die soldate wat reg gestaan het om die stad te beskerm het van so ver as Arwad gekom. En manne uit Gammad het diens gedoen in die torings van waar die stad veilig gehou is. Hierdie manne het ook hulle wapens teen jou mure opgehang. En was jy nie ’n veilige stad nie!

12. “Die groot en belangrike stad Tarsis was die agent wat vir jou gaan handel dryf het, want jy het soveel goed gehad om te verkoop. Hulle het jou ware verruil vir silwer en yster, tin en lood.

13. Ook Griekeland, Tubal en Mesek het met jou besigheid kom doen. Hulle het slawe en kopergoed gebring wat hulle verruil het vir die handelsware wat hulle by jou gekoop het.

14. Die mense van Bet-Togarma het perde en muile gebring en dit geruil om jou goed in die hande te kon kry.

15. Die mense van Dedan het ook gekom om met jou besigheid te doen. Die mense op die eilande het die goed wat jy gemaak het, vir jou verkoop. Hulle het jou betaal met olifantstande en baie duur hout.

16. Die mense van Aram het ook besigheid met jou kom doen, want jy het baie dinge gemaak. Hulle het jou goed kom koop met hulle materiaal wat van verskillende kleure was en die duur edelstene wat hulle uit hulle myne gehaal het.

17. Ook Juda en Israel het met jou handel gedryf. Hulle het jou ware verruil vir hulle koring, vir vye en heuning, olyfolie en balsemgom.

18. Damaskus was ook ’n agent wat vir jou besigheid gedoen het. Jy het jou produkte verkoop vir wol en wyn.

19. Die mense van Dan en tot so ver as Griekeland het hulle yster, kaneel en medisyne gebring en daarmee betaal vir wat jy verkoop het.

20. Die mense van Dedan het weer met duur komberse betaal wat jy onder jou perdesale gesit het.

21. Die Arabiere en die regeerders van Dedan het jou betaal met lammers en skape, asook bokramme.

22. En die mense van Skeba en Rama het betaal met gom en edelstene en goud.

23. Die mense van Haran en Eden, Assirië en Kilmad het ook met jou besigheid gedoen.

24. Hulle het weer mooi klere en materiaal en tou gebruik om jou te betaal vir die goed wat jy gemaak het.

25. Skepe wat van Tarsis gekom het, het jou ware opgelaai en aan ander lande gaan verkoop.

Esegiël 27