19. Verbeel jou! Ek is jou God, en Ek gee vir jou die beste om te eet. En wat Ek vir jou gee, gaan offer jy toe vir afgode, dooie beelde wat niks vir jou kan doen nie. Ja, dít is die slegte dinge wat jy aangevang het,” sê die Here, Esegiël se God.
20. “Ek was die pa van jou kinders. En dit is hierdie kinders, my seuns en my dogters, wat jy aan jou afgode geoffer het. Was dit nie erg genoeg dat jy by ander mans geslaap het nie?
21. Moet jy nou ook nog my kinders doodmaak deur hulle aan jou afgode te offer?
22. In al die jare dat jy hierdie afskuwelike slegte dade gedoen het, het jy nie eens een keer teruggedink aan die ou dae toe jy as baba hulpeloos en in jou eie bloed in die veld gelê het nie.”
23. “Ek gaan jou vernietig, so seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël. “Al jou slegte dade was nie genoeg nie.
24. Jy het ook nog ’n plek gebou vir jou afgode. En jy het in elke dorp altare gebou waar jy offers vir jou afgode gebring het.
25. En op elke straathoek het jy jou lewe verwoes met al jou slegte dade. Jy het jou liggaam aangebied vir elke vreemdeling wat by jou verbygekom het. Jy het gesê: ‘Kom slaap by my!’
26. Jy het ook Egipte, waar jy ’n bediende was en waar Ek jou gaan verlos het, by jou minnaars gevoeg. Jy het My verskriklik kwaad gemaak met jou slegte dade om by al wat man is te slaap, al was jy met My getroud.
27. Daarom het Ek jou met my vuis bygedam. Ek het jou land al hoe kleiner gemaak. Ek het jou aan jou vyande oorgegee. Selfs jou vyande, die Filistyne, het verstom gestaan oor al die slegte dade waaraan jy jou oorgegee het.
28. Jy het jou liggaam op ’n skinkbord vir die Assiriërs gegee. Jy kon net nie genoeg minnaars kry by wie jy kon slaap nie. En as jy opstaan, het jy dadelik na nog iemand gesoek by wie jy kon slaap.
29. Selfs Babilonië het jou minnaar geword. Jy het ook by hom gaan slaap. En ná dit alles was jy nog nie tevrede nie.