22. Die Here het toe vir Moses gesê om sy hand na die wolke toe uit te steek sodat daar hael kan val op al die mense en diere en plante oor die hele Egipte.
23. Toe Moses sy kierie na die lug uitsteek, het die Here weerligslae en hael laat kom. Blitse het op die aarde geslaan. Die Here het ’n yslike haelstorm oor Egipte laat losbars.
24. Daar was ’n storm met haelstene en onophoudelike weerlig oor die hele Egipte soos daar nog nooit tevore was nie.
25. Die hael het oor die hele land geval. Dit het alles platgeslaan wat buite in die veld was: mens en dier en plant, alles. Die hael het selfs die bome in die veld weggeslaan.
26. Die enigste plek waar dit glad nie gehael het nie, was in Gosen waar die Israeliete gewoon het.
27. Die farao het Moses en Aäron toe dringend laat kom. Hy het vir hulle gesê: “Ek het ’n fout gemaak. Hierdie keer is die Here reg. Ek en my volk is verkeerd.
28. Bid asseblief tot die Here. Hierdie verskriklike donderslae en hael is te veel vir ons. Ek sal julle laat trek. Julle hoef my nie weer te kom vra om te gaan nie.”
29. “Goed,” sê Moses vir hom, “sodra ek uit die stad uit is, sal ek tot die Here bid dat die donderstorm moet bedaar en dat die hael moet ophou. U sal dan besef dat die Here in beheer van die land is.
30. Ek besef egter baie duidelik dat u en u mense nog glad nie die nodige respek vir die Here God het nie.”
31. Die hele vlas- en garsoes is weggeslaan. Die gars was al in die aar en die vlas het net mooi begin uitstoot.
32. Die koring en die hawer is darem nie vernietig nie omdat dit eers later moes opkom.
33. Moses is toe van die farao af weg. Hy het net buite die stad tot die Here gebid. Die donderstorm en hael het opgehou en dit het ophou reën.
34. Toe die farao sien dat die storm oor is, het hy maar net voortgegaan met sy sonde. Hy en sy amptenare het aanhou weier.
35. Soos die Here tevore gesê het dit sou gebeur, het die farao steeds eiesinnig gebly en bly weier dat die Israeliete kan gaan.