Eksodus 9:21-28 Die Boodskap (DB)

21. Die ander wat die skouers opgehaal het vir die Here se woorde, het hulle werkers en hulle vee buite in die veld gelos.

22. Die Here het toe vir Moses gesê om sy hand na die wolke toe uit te steek sodat daar hael kan val op al die mense en diere en plante oor die hele Egipte.

23. Toe Moses sy kierie na die lug uitsteek, het die Here weerligslae en hael laat kom. Blitse het op die aarde geslaan. Die Here het ’n yslike haelstorm oor Egipte laat losbars.

24. Daar was ’n storm met haelstene en onophoudelike weerlig oor die hele Egipte soos daar nog nooit tevore was nie.

25. Die hael het oor die hele land geval. Dit het alles platgeslaan wat buite in die veld was: mens en dier en plant, alles. Die hael het selfs die bome in die veld weggeslaan.

26. Die enigste plek waar dit glad nie gehael het nie, was in Gosen waar die Israeliete gewoon het.

27. Die farao het Moses en Aäron toe dringend laat kom. Hy het vir hulle gesê: “Ek het ’n fout gemaak. Hierdie keer is die Here reg. Ek en my volk is verkeerd.

28. Bid asseblief tot die Here. Hierdie verskriklike donderslae en hael is te veel vir ons. Ek sal julle laat trek. Julle hoef my nie weer te kom vra om te gaan nie.”

Eksodus 9