Eksodus 4:13-24 Die Boodskap (DB)

13. “Asseblief, Here,” sê Moses weer, “stuur liewer iemand anders.”

14. Die Here het toe kwaad geword vir Moses. “Wat van jou broer Aäron wat uit die familie van die Leviete is?” vra die Here. “Ek weet dat hy flink is met die mond. Hy is al klaar op pad om jou te ontmoet. Hy gaan baie bly wees om jou weer te sien.

15. Beduie vir hom wat hy moet sê. Ek sal julle help om te praat en Ek sal vir julle wys wat julle moet doen.

16. Hy sal in jou plek met die volk praat. Hy sal vir hulle sê wat jy wil hê hulle moet hoor.

17. Hou hierdie stok by jou dat jy daarmee die tekens kan doen wat Ek vir jou gewys het om die volk te oorreed.”

18. Moses het eers teruggegaan na sy skoonpa, Jetro, toe. Hy het vir hom gevra: “Ek wil asseblief teruggaan na my mense in Egipte om te kyk of hulle ooit nog lewe.”“Sekerlik,” het hy gesê, “jy kan gerus maar gaan.”

19. Die Here het reeds in Midian vir Moses die versekering gegee: “Jy kan maar teruggaan Egipte toe. Die mense wat na jou gesoek het om jou dood te maak, leef lankal nie meer nie.”

20. Moses het sy vrou en sy seun bymekaargemaak. Hulle is op donkies daar weg, terug Egipte toe. Hy het die stok waaroor God met hom gepraat het, in sy hand vasgehou.

21. Die Here het vir Moses ’n opdrag gegee: “Wanneer jy terug is in Egipte, moet jy na die farao van die land toe gaan. Jy moet voor hom al die wondertekens doen wat Ek vir jou gegee het om te doen. Ek sal die farao egter hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek.

22. Jy moet dan vir hom sê: ‘Die Here sê: Israel is my oudste seun, my seun wat eerste gebore is.

23. Ek het jou laat weet dat jy my seun moet toelaat om te gaan om My in die woestyn te aanbid. Jy het geweier om hom te laat gaan. Ek gaan daarom nou jóú oudste en eerste seun laat doodgaan.’”

24. Die Here het op Moses afgekom waar hy die nag langs die pad geslaap het. Die Here wou hom doodmaak.

Eksodus 4