Eksodus 36:18-38 Die Boodskap (DB)

18. Hulle het ook 50 koperhakies gemaak om deur die lussies te haak sodat die twee velle op mekaar een dubbelvel kon vorm vir die middelste laag van die tent se dak.

19. Hulle het ook ’n boonste laag vir die dak van die tent gemaak. Dit is gemaak van ’n laag gelooide ramsvel waaroor ’n tweede laag gebreide vel gesit is.

20. Hulle het ook vir die tent houtpanele uit akasiahout gemaak.

21. Elke paneel was vyf meter hoog en 75 sentimeter breed.

22. Daar was aan elke paneel twee lasplekke sodat dit aan ’n volgende paneel gelas kon word. Al die panele van die tent het dieselfde gelyk.

23. Hulle het twintig panele gemaak vir die suidelike muur van die tent.

24. Hulle het ook 40 voetstukke van silwer gemaak om onder die panele te sit.

25-26. Vir die muur aan die oorkant, aan die noordekant, het hulle ook twintig panele met 40 voetstukke gemaak.

27. Vir die koppenent aan die westekant van die tent het hulle ses gewone panele gemaak

28-29. asook twee versterkte hoekpanele.

30. In hierdie muur was daar agt panele met sestien silwervoetstukke.

31. Hulle het ook dwarslatte van akasiahout gemaak wat die panele aan mekaar moes hou. Daar was vyf latte vir elke muur.

32. Op die lang kante was daar vyf latte en vyf vir die muur aan die endkant.

33. Hulle het die middelste dwarslat gemaak om op halwe hoogte dwarsoor die panele van hoek tot kant te loop.

34. Hulle het die panele en die dwarslatte met goud oorgetrek. Hulle het ook goue ringe aan die panele vasgesit waardeur die dwarslatte gesteek kon word.

35. Hulle het ook die gordyn gemaak waarmee die tent in twee verdeel moes word. Dit is van geweefde linne gemaak waarin blou, pers en bloedrooi draad kunstig ingeweef was en waarop figure met vlerke geborduur was.

36. Hulle het vier akasiahoutpale gemaak en dit met goud oorgetrek. Vir elke regop paal is ook ’n silwervoetstuk gemaak.

37. Vir die ingang van die tent, aan die regterkant, het hulle ’n gordyn van geweefde materiaal gemaak waardeur blou, pers en bloedrooi wol gestik was.

38. Vir die gordyn het hulle vyf regop staanders gemaak met goue hakies. Die bopunte van die staanders en die gordynstokke wat daarop rus, het hulle met goud oorgetrek. Vir elke staander het hulle ’n voetstuk van koper gemaak.

Eksodus 36