7. Ek bly getrou aan derduisende mense. Ek vergeet alles wat hulle verkeerd gedoen het. Maar Ek laat nie met My mors nie. Ek straf die kinders en die agterkleinkinders vir oortredings van die ouers wat nie na My wou luister nie. Ek onthou wat hulle verkeerd gedoen het vir ’n hele paar geslagte daarna.”
8. Moses het dadelik op sy knieë gegaan en tot die Here begin bid.
9. Hy het gevra: “Here, as U dan van my hou, gaan dan tog asseblief saam met ons. Ons is regtig ’n hardkoppige volk. Vergeef tog ons sonde en ons oortreding. Aanvaar ons as u eie volk.”
10. Die Here antwoord toe: “Kyk, Ek sal ’n nuwe ooreenkoms met julle maak. Ek sal voor die hele volk wonderlike dinge laat gebeur. Sulke dinge het nog nêrens op die aarde gebeur nie. Geen volk het so iets gesien nie. Al die volke rondom julle sal sien wat die Here kan doen. Ek sal groot dinge met jou laat gebeur.
11. Besluit nou om alles te doen wat Ek vandag van jou vra. Dan sal Ek die Amoriete, Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete voor julle uit die land uit verdryf.
12. “Wees versigtig dat jy nie ’n ooreenkoms sluit met hierdie mense wat in die land bly waarheen jy gaan nie. Jy gaan in ’n strik trap as jy dit doen.
13. Jy moet hulle aanbiddingsplekke afbreek. Maak hulle klippilare gelyk met die grond. Kap die pale af wat hulle vir hulle godin Asjera geplant het.