14. Die Here het toe van besluit verander. Hy het die plan gelos wat Hy gehad het om sy volk uit te wis.
15. Moses is van die Here af weg en het teen die berg begin afklim. Hy het die twee plat klippe waarop die bewys van die Here se ooreenkoms geskryf was, in sy hand gehou. Daar was aan die voorkant en ook aan die agterkant op die klippe geskryf.
16. Die klippe was God se eie handewerk. God se eie handskrif was op die klippe gegraveer.
17. Toe Josua die lawaai van die volk hoor, sê hy vir Moses: “Daar is oorlog in die kamp.”
18. “Nee,” sê Moses, “dis nie die gejuig van oorwinnaars nie, dis nie die gekerm van verloorders nie, maar die lawaai van ’n dronkspul wat ek hoor.”
19. Toe Moses nader kom aan die kamp en die beeld van die kalf sien en sien hoe hulle al in die rondte dans, het hy so kwaad geword dat hy die plat klippe op die grond neergesmyt het. Dit het in stukke by die voet van die berg gelê.
20. Hy het die beeld van die kalf in die vuur gegooi en dit toe so fyn soos stof gemaal. Hy het die poeier in die drinkwater gegooi en die Israeliete gedwing om dit op te drink.