Eksodus 30:9-15 Die Boodskap (DB)

9. Geen ander soort offer mag op hierdie altaar geoffer word nie. Daar mag nie vreemde goed op gebrand word nie. Julle mag ook nooit ’n offer van vleis daarop verbrand of offers daarop bring waarvan julle self ’n deel kan eet nie. Daar mag ook nie iets daarop uitgegooi word om dit te offer nie.

10. Net een keer per jaar, op die dag wat julle sake met God reggestel word, mag Aäron van die bloed van die sondeoffer wat op daardie dag gebring word, aan die altaar se horings kom smeer om daarop vrede vir julle te maak. Almal moet onthou dat dit ’n altaar is wat net vir die wierookoffer gebruik mag word. Dit behoort aan God alleen.”

11. Die Here het ook verder vir Moses gesê:

12. “Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wat klaar getel is, belasting betaal. As hy dit nie doen nie, kan ’n ramp hom miskien tref.

13. Sodra hy getel is, moet hy ses gram silwer by die tent kom inbetaal. Hy moet dit afweeg op die skaal wat by die tent gebruik word. Sy belasting is ’n offer wat hy vir die Here bring.

14. Elkeen wat twintig jaar en ouer is, moet getel word en die belasting betaal.

15. Die bedrag geld is vir almal dieselfde, of hy nou ryk is of arm.

Eksodus 30