10. Net een keer per jaar, op die dag wat julle sake met God reggestel word, mag Aäron van die bloed van die sondeoffer wat op daardie dag gebring word, aan die altaar se horings kom smeer om daarop vrede vir julle te maak. Almal moet onthou dat dit ’n altaar is wat net vir die wierookoffer gebruik mag word. Dit behoort aan God alleen.”
11. Die Here het ook verder vir Moses gesê:
12. “Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wat klaar getel is, belasting betaal. As hy dit nie doen nie, kan ’n ramp hom miskien tref.
13. Sodra hy getel is, moet hy ses gram silwer by die tent kom inbetaal. Hy moet dit afweeg op die skaal wat by die tent gebruik word. Sy belasting is ’n offer wat hy vir die Here bring.
14. Elkeen wat twintig jaar en ouer is, moet getel word en die belasting betaal.
15. Die bedrag geld is vir almal dieselfde, of hy nou ryk is of arm.
16. Die geld wat jy op hierdie manier van die Israeliete kry, moet jy gebruik om te betaal vir alles wat daar by my tent gedoen moet word. Ek sal onthou dat die Israeliete betaal het en dat daar nie rampe oor hulle moet kom wanneer die volk getel word nie.”
17. Die Here het nog verder vir Moses gesê:
18. “Maak ’n bak uit koper met ’n voetstuk uit koper om by te gaan was. Sit dit tussen die tent en die altaar en gooi dit vol water.
19. Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daar was met water uit die bak. Hulle moet dit elke keer doen
20. wanneer hulle in die tent gaan werk of wanneer hulle by die altaar offers gaan verbrand.
21. Dit is ’n vaste reël vir Aäron en almal wat hom opvolg. Hulle moet voor die tyd eers hulle hande en hulle voete was voor hulle hulle werk by die tent gaan doen. As hulle dit nie doen nie, kan dit hulle lewe kos.”
22. Die Here het ook nog vir Moses gesê:
23-24. “Kry die volgende bymekaar vir ’n mengsel van salf en olie: 500 dele mirre, die helfte soveel kaneel, 250 dele kalmoes, 500 dele kassie, en vier liter olyfolie.
25. Meng dit alles soos ’n apteker en maak ’n mengsel van salfolie vir die tent.
26. Gooi daarvan uit op die tent, op die ark met die bewys van ons ooreenkoms,
27. oor die tafel waarop die brode gesit word saam met alles wat daarby staan, oor die ligstaander en alles wat daarby hoort, oor die altaartjie waarop die wierook gebrand word,
28. oor die altaar buite waarop die offers verbrand word saam met sy gereedskap en oor die koperbak op sy voetstuk waar die werkers hulle was.
29. Dra dit alles aan die Here op met die salfolie sodat dit alles aan die Here alleen gewy is. Elkeen wat aan hierdie voorwerpe raak, moet self aan die Here gewy wees.