2-4. Die dief moet elke sent terugbetaal. As hy nie kan betaal nie, moet hy self verkoop word vir die bedrag geld wat hy nog geskuld het. As die bees of die donkie of die skaap wat hy gesteel het, nog lewendig by hom gekry word, moet hy twee keer soveel terugbetaal as wat die dier werd is. As hy op heterdaad betrap word terwyl hy gedurende die nag die diere steel en hy word daar doodgemaak, is dit nie ’n oortreding wat gestraf kan word nie. Wanneer hy egter helder oordag steel en dan gevang en doodgemaak word, is dit ’n strafbare oortreding.”
17. As haar pa volstrek weier dat die man met sy dogter trou, moet die man hom ’n bedrag geld gee. Die bedrag is dieselfde as die geld wat betaal word aan ’n pa om sy dogter te kry.
18. “’n Vrou wat haar met toordery ophou, mag nie bly leef nie.
19. Enigeen wat seks met ’n dier het, moet doodgemaak word.
20. Elkeen wat offers bring vir enige ander god as net die Here, moet doodgemaak word.
21. “Jy moenie iemand wat van ’n ander land af kom, sleg behandel nie. Jy was mos self ’n mens uit ’n ander land toe julle in Egipte was.
22. Jy moenie weduwees en weeskinders uitbuit omdat hulle nie ’n man het wat vir hulle sorg nie.
23-24. As jy dit doen en hulle kom kla by My en vra My om hulle te help, sal Ek hulle kant kies. Ek sal met woede teen jou losbrand en Ek sal jou in die oorlog laat doodgaan. Jou eie vrou sal dan ’n weduwee word en jou eie seuns ook weeskinders sonder iemand om vir hulle te sorg.
25. “Wanneer jy geld vir arm mense in die volk leen, moet jy nie ook nog vir hulle rente daarop vra nie.
26. As iemand in die loop van die dag sy mantel vir jou as ’n pand gegee het vir iets wat hy by jou geleen het, moet jy dit vir hom teruggee as die son ondergaan.
27. Dit is al wat hy het om homself in die nag mee toe te maak. Onder wat anders kan hy slaap? As jy dit nie doen nie en hy kom kla by My, sal Ek na hom luister, want Ek gee om vir sulke mense.