Efesiërs 4:14-25 Die Boodskap (DB)

14. Ons sal nie meer soos klein kindertjies onseker wees oor wat van ons verwag word nie. Ons sal nie soos ’n skip wees wat deur die golwe rondgeslinger word of deur die een wind hiernatoe en die ander wind daarnatoe gedryf word nie. Net so sal ons nie na elke nuwe godsdienstige praatjie op die mark luister nie. Mense probeer jou net met allerhande slimmighede om die bos lei om jou so op die verkeerde pad te laat beland. Maar hulle sal dit nie regkry nie. Ons sal in liefde lojaal teenoor mekaar en net op die pad van die waarheid bly.

15. Ons verhouding met Jesus sal in alles net sterker word. Ons, as die liggaam, sal al hoe meer van Christus afhanklik wees, want Hy is mos die kop van die liggaam.

16. Die liggaam is mooi aanmekaargesit, elke deel op sy plek, sodat elke liggaamsdeel sy eie werk doen en die ander liggaamsdele help. So groei die liggaam en word dit sterk omdat die verskillende liggaamsdele in liefde en lojaliteit mekaar help.

17. Wat ek nou sê, moet julle nie ligtelik opneem nie. Dit is wat die Here self wil hê. Julle moet ophou om julle te gedra soos mense wat nie die Here ken nie. Daar is niks wat die moeite werd is in sulke mense se koppe nie.

18. Hulle gedagtes is met onbelangrike dinge besig en hulle kan nie verder dink as wat hulle neuse lank is nie. Daarom besef hulle nie eens dat God vir hulle ’n nuwe lewe wil gee nie. Hulle is hardkoppig en wil nie na rede of goeie raad luister nie. Daarom gaan dit so sleg met hulle.

19. Hulle het geen gevoel meer vir wat reg of verkeerd is nie. Hulle leef nou vieslike lewens en kan nie genoeg daarvan kry nie.

20. Julle het Christus egter nie so leer ken nie.

21. Toe julle van Hom gehoor het, het julle sy volgelinge geword. So het julle geleer wat die waarheid is, want dit is alleen as jy Jesus ken dat jy by die waarheid uitkom.

22. Los julle ou manier van lewe. Soos ’n mens vuil klere uittrek, moet julle julle ou geaardheid uittrek, want dit is vol sonde en wil net verkeerde dinge doen. Die einde van daardie pad loop op verwoesting uit.

23. Julle moet ’n nuwe gesindheid kry en op ’n nuwe manier oor dinge dink.

24. Hierdie nuwe lewenstyl moet julle deel van julle lewe maak soos ’n mens nuwe klere aantrek. Ons nuwe lewe moet ons al meer soos God laat lyk: ons moet reg lewe soos God dit wil hê en ons heeltemal aan Hom toewy.

25. Moenie vir mekaar lieg nie. Wees eerlik met mekaar, want ons speel mos almal saam in dieselfde span van God.

Efesiërs 4