1. Ek, Paulus, wat spesiaal deur Christus Jesus as sy boodskapper gestuur is omdat God dit so wou hê, het hierdie brief geskryf.Dit is bedoel vir God se mense in Efese, almal wat in Christus Jesus glo.
2. Mag God, die Vader, en die Here Jesus Christus vir julle goed wees, ver meer as wat julle verdien. Mag Hulle vir julle vrede gee soos net Hulle kan.
3. Laat ons nie ophou om God, die Vader van ons Here Jesus Christus, te loof en groot te maak nie. Omdat ons Jesus s’n is, het God ons - wat eintlik niks was nie - baie belangrik kom maak. Hy het vir ons al die geestelike dinge gegee wat by God die moeite werd is vir ’n mens om te hê.
4. Hy het ons wat aan Jesus behoort, gekies nog lank voor die wêreld gemaak is. Ons moet net Syne wees en daar moet niks in ons wees wat Hom ontevrede kan maak nie.
5. Dit alles het Hy uit liefde gedoen. Ja, Hy het vooraf besluit om ons sy eie kinders te maak. Hy het besluit om dit te doen om geen ander rede as dat Hy dit graag vir ons wou doen nie. En dit is nie sommer net ’n storie nie - Jesus Christus het kom sorg dat dit regtig gebeur.
19-21. Verder bid ek ook dat julle sal agterkom dat die krag van God wat in ons werk sterker as enigiets anders is. Ons het gesien hoe geweldig daardie krag regtig is toe God Jesus uit die dood laat opstaan en vir Hom die belangrikste plek in die hemel gegee het. Daardie selfde krag werk ook in ons as Christene. Nou regeer Jesus natuurlik oor al wat mag of regeerder of koning is. Niemand, ek herhaal, niemand en niks sal ooit belangriker of sterker as Jesus kan wees nie; nie nou nie en ook nie in die toekoms nie.
22-23. God self het vir Jesus die magtige posisie gegee om oor alles en almal te heers, ook oor die kerk. Jesus is die leier van die kerk en die kerk moet daarom gehoorsaam doen wat hulle leier van hulle verwag. Laat ek ’n voorbeeld gebruik: Jesus is soos die kop en die kerk soos die res van die liggaam. Saam is hulle een. Die kop beheer die liggaam en laat sy invloed deur die hele liggaam vloei. Die kop sorg vir alles wat elke deeltjie van die liggaam nodig mag hê. En die liggaam, die kerk, laat die kop, Jesus, volledig wees wat Hy is.