5. Die mense wat in die huis van die Here werk, die kinders van Levi, moet by hulle wees wanneer hulle dit doen. Dis immers hulle wat die Here jou God uitgekies het om vir Hom te werk. Hulle mag mense voorspoed toebid en die Here sal hulle voorspoedig maak. Dis hierdie mense wat ook moet besluit wie reg is as twee mense mekaar hof toe vat, en wat bepaal watter straf die skuldiges moet kry.
6. “Dan moet die leiers van die stad wat die naaste is aan die plek waar die lyk gekry is, hulle hande was oor die jong koei waarvan die nek gebreek is.
7. En dan moet hulle sê: ‘Dis nie ons wat hierdie moord gepleeg het nie. Ons het ook g’n idee wie dit gedoen het nie.
8. Here, ons bid: vergewe u volk Israel, die mense vir wie U gered het. Sê tog dat u volk onskuldig is. Moenie u volk verantwoordelik hou vir die moord op hierdie onskuldige persoon nie. Moet dit nie teen ons hou nie.’ “Dan sal hulle nie skuldig wees aan die dood van daardie mens nie.
9. As jy presies so maak soos ek vir jou sê, sal jy doen wat vir die Here reg is. Dan sal jou mense onskuldig wees aan die moord op daardie persoon.”
10. “Dit kan gebeur dat jy oorlog maak teen een van jou vyande. Die Here jou God sorg dan dat jy jou vyand oorwin. Jy neem die mense van daardie stad of gebied gevange.
11. Onder die gevangenes sien jy ’n vrou wat vir jou mooi is. Jy raak verlief op haar en wil met haar trou.
12. Dan moet jy so maak: jy moet haar gaan haal dat sy in jou huis kom bly. Daar moet sy haar hare afskeer en haar naels kort sny.
13. Sy moet ook die klere uittrek wat sy gedra het toe sy ’n gevangene was. Jy moet haar los dat sy ’n maand lank in jou huis bly. In hierdie tyd moet sy oor haar pa en ma treur. Eers hierna mag jy met haar trou.
14. Maar sê nou jy trou met haar en vind dan later uit dat jy nie meer lief is vir haar nie. Dan moet jy haar laat weggaan. Jy mag haar nie verkoop nie. En jy mag haar nie behandel asof sy ’n huishulp is nie, want jy het by haar geslaap.”
15. “Sê nou ’n man het twee vroue. Hy is baie lief vir die een, maar nie vir die ander een nie. Hy het ’n seun by al twee hierdie vroue. Sê nou die seun wat eerste gebore word, is die seun van die vrou vir wie hy nie baie lief is nie.