Deuteronomium 2:15-33 Die Boodskap (DB)

15. Die Here het hulle ongehoorsaamheid onthou en hulle oor die jare laat sterf.

16. “Toe hulle almal dood is,

17. het die Here vir my gesê:

18. ‘As julle vandag deur die gebied van die Moabiete trek,

19. gaan julle baie naby aan die Ammoniete verby. Moenie hulle aanval of ’n geveg begin nie. Hierdie land het Ek vir Lot en sy kinders gegee. Daarom sal julle niks daarvan kry nie.’

20. (Ook hierdie gebied word die land van die Refaïete genoem. Voorheen het die Refaïete daarin gebly. Die Ammoniete het hulle die Samsummiete genoem.

21. Hulle was ook, net soos die Enakiete, groot en lank. Toe het die Here die Refaïete deur die Ammoniete vernietig. En die Ammoniete het die land gevat en daarin gaan bly.

22. Dit is ook wat die Here vir die nageslag van Esau in Seïr gedoen het: Hy het die Horiete verdryf sodat die Edomiete vandag nog daarin kan woon.

23. Dit het ook met die Awwiete in die dorpe rondom Gasa gebeur. Die mense van Kaftor het die Awwiete vernietig en toe in hulle gebied gaan woon.)

24. Die Here het verder vir ons gesê: ‘Staan op en trek deur die Arnonrivier. Ek sal die Amoriet, Sihon die koning van Gesbon en sy land in julle hand gee. Veg teen Sihon en beset sy land. So sal julle met die verowering van die Beloofde Land begin.

25. Van vandag af maak Ek al die volke bang vir julle. As hulle van julle hoor, sal hulle benoud raak. As hulle julle sien, sal hulle begin bewe.’”

26. “Toe het ek mense uit ons kampplek in die Kedemotwoestyn met ’n boodskap na Sihon gestuur:

27. ‘Laat my deur jou land trek. Ek sal reguit trek sonder om af te draai.

28. Vir die kos wat ek eet en die water wat ek drink, sal ek betaal.

29. Laat my deur jou gebied trek tot waar ek die Jordaan na die Beloofde Land moet oorsteek. Esau se nageslag in Seïr en die Moabiete in Ar het my ook toegelaat om deur hulle land te trek.’

30. Koning Sihon wou ons egter nie laat deurtrek nie, want die Here het sy hart kliphard gemaak. Toe het ons teen koning Sihon geveg en sy land binnegetrek en dit is waar ons vandag nog woon.

31. “Toe het die Here vir my gesê: ‘Ek het Sihon en sy land aan julle gegee. Julle moet intrek en dit beset.’

32. “Sihon en sy weermag het na Jahas toe getrek om teen ons te veg.

33. Die Here het ons egter gehelp en ons het Sihon, sy weermag en sy seuns geheel en al vernietig.

Deuteronomium 2