Daniël 9:9-15 Die Boodskap (DB)

9. Ten spyte van ons opstandigheid is U, o Here ons God, bereid om ons te vergewe. Want U is ’n goeie God wat ons baie liefhet. “

10. Ons het nie geluister na U, ons Here en God, nie, want ons het nie gedoen wat u dienaars, die profete, vir ons gesê het nie.

11. Die hele Israel het die rug vir U gedraai en wou nie doen wat U van hulle verwag nie. Toe U met hulle gepraat het, het hulle hulle ore toegedruk. Daarom dra ons nou die gevolge van ons verkeerde dade soos U ons gewaarsku het in die wet van Moses, u dienaar.

12. U het gedoen wat U gesê het U met ons en ons leiers gaan doen. Wat met Jerusalem gebeur het, is die grootste ramp ooit.

13. Alles het gebeur net soos dit in die wet van Moses geskryf staan. En tog, Here ons God, het ons geweier om op te hou sonde doen. Ons wou nie na U toe terugkom om te kom sê ons is jammer nie.

14. Daarom het U ons nie jammer gekry nie. U het ons die gevolge laat dra van ons ongehoorsaamheid. Want U is ’n God wat doen wat U sê. U tree altyd reg op.

15. “Here, ons God, U het u mag bewys toe U u volk uit Egipte laat trek het. Daarom word u Naam tot vandag toe nog onthou en met groot respek behandel. Maar ons is sleg en vol sonde.

Daniël 9