5. Die tweede dier het soos ’n beer gelyk. Hy het ook op sy agterpote gestaan en in sy bek was daar drie ribbebene, tussen sy tande. Ek het gehoor hoe ’n stem vir hom sê: ‘Eet! Eet net soveel vleis as wat jy wil!’
6. Toe ek weer kyk, was daar nog ’n dier. Hierdie een het soos ’n luiperd gelyk. Op sy rug het hy egter vier vlerke soos ’n voël s’n gehad. Hy het ook nie net een kop gehad nie, maar vier. Dit was duidelik dat hy baie mag gehad het.
7. Ek het ook in my visioen ’n vierde dier gesien. Hierdie dier was vreesaanjaend. Dit het my met angs gevul en dit was sterk. Met sy ystertande het hy sy vyande vermorsel en opgevreet. Wat oorgebly het, het hy verder met sy pote vertrap. Hierdie dier met sy tien horings was anders as die ander drie.
8. Terwyl ek nog besig was om my aan die horings te verstom het ek gesien hoe daar ’n ander, kleiner horing tussen die horings uitkom. Drie ander horings is wortel en al uitgeruk om plek te maak vir hierdie horinkie. Hierdie horing het oë soos dié van ’n mens gehad en ’n mond waarmee hy allerhande arrogante dinge gesê het.
9. “Ek het ook gesien hoe daar trone reggesit word. Die Een wat vir ewig lewe, het op een van die trone gaan sit om as regter op te tree. Sy klere was so wit soos sneeu en sy hare so wit soos suiwer wol. Sy troon het vier vlammende wiele gehad en was omring deur vuur.
10. Die vuur het soos ’n rivier uit die troon uit gestroom. Miljoene engele het Hom bedien en daar het miljoene der miljoene mense voor sy troon gestaan. Toe het die hofsitting begin en die boeke is oopgemaak waarin al die aanklagte opgeteken is.
11. “Die klein horinkie was nog steeds besig om allerhande grootpraterige goed te sê. En toe ek weer kyk, sien ek hoe die vierde dier doodgemaak word en sy liggaam in die vuur verbrand word.
12. Ook die ander drie diere se krag is van hulle af weggevat, maar hulle lewe is vir nog ’n klein rukkie gespaar.
13. “My visioen het voortgegaan. Daar in die wolke het ek iemand sien aankom. Hy het soos ’n mens gelyk. Hy het na die Een toe gegaan wat vir altyd lewe. Hierdie mens is geroep om by sy troon te gaan staan.
14. Aan hierdie mens is al die mag en die eer en die koningskap gegee, sodat al die volke, nasies en tale van die wêreld hom sou dien. Daar sal nooit ’n einde aan sy heerskappy wees nie. Sy koninkryk sal nooit vernietig word nie.”
15. “Hierdie visioen het my verskriklik ontstel; dit het my baie bang gemaak.
16. Ek het toe na een van dié wat langs God se troon gestaan het, gegaan en vir hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe so vir my verduidelik: