Daniël 7:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Vroeër, tydens die eerste jaar waarin Belsasar koning van Babel was, het Daniël ’n droom gehad en visioene gesien terwyl hy gelê en slaap het. Hy het die droom soos volg beskryf:

2. “Daar was in my visioen in die nag ’n geweldige storm op die see en die wind het uit alle rigtings die branders heen en weer gewaai.

3. Skielik het daar vier massiewe diere uit die see uit opgekom. Nie een van die diere het dieselfde gelyk nie.

4. Die eerste een het soos ’n leeu gelyk, maar dit het groot vlerke gehad soos dié van ’n arend. Terwyl ek nog so na die dier kyk, is sy vlerke afgeskeur. Hy het op sy agtervoete bly staan net soos ’n mens wat regop staan. Hy kon dink en reageer soos ’n mens.

5. Die tweede dier het soos ’n beer gelyk. Hy het ook op sy agterpote gestaan en in sy bek was daar drie ribbebene, tussen sy tande. Ek het gehoor hoe ’n stem vir hom sê: ‘Eet! Eet net soveel vleis as wat jy wil!’

6. Toe ek weer kyk, was daar nog ’n dier. Hierdie een het soos ’n luiperd gelyk. Op sy rug het hy egter vier vlerke soos ’n voël s’n gehad. Hy het ook nie net een kop gehad nie, maar vier. Dit was duidelik dat hy baie mag gehad het.

7. Ek het ook in my visioen ’n vierde dier gesien. Hierdie dier was vreesaanjaend. Dit het my met angs gevul en dit was sterk. Met sy ystertande het hy sy vyande vermorsel en opgevreet. Wat oorgebly het, het hy verder met sy pote vertrap. Hierdie dier met sy tien horings was anders as die ander drie.

8. Terwyl ek nog besig was om my aan die horings te verstom het ek gesien hoe daar ’n ander, kleiner horing tussen die horings uitkom. Drie ander horings is wortel en al uitgeruk om plek te maak vir hierdie horinkie. Hierdie horing het oë soos dié van ’n mens gehad en ’n mond waarmee hy allerhande arrogante dinge gesê het.

Daniël 7