Amos 3:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Luister wat sê die Here oor julle, Israel. Hoor wat Hy sê van die volk wat Hy uit Egipte laat wegtrek het:

2. “Uit al die nasies wat daar op die aarde is, het Ek julle gekies en My net aan julle verbind. Julle sal vir My moet kom verduidelik hoekom julle dan soveel sonde teen My doen.”

3. Sal twee mense saam die pad vat as hulle dit nie voor die tyd met mekaar so afgespreek het nie?

4. Sal ’n leeu in die bos brul as daar niks is om te vang nie? Sal ’n jong leeu grom as daar nie eens ’n prooi vir hom is nie?

5. Sal ’n voël ooit teen die grond neerslaan as dit nie ’n wip is wat hom gevang het nie? Sal ’n vangstrik toeklap as daar nie iets is wat dit afgetrap het nie?

6. Wanneer die oorlogstrompet blaas, is dit vanselfsprekend dat mense sal skrik. Wanneer ’n ramp ’n stad tref, is dit vanselfsprekend dat dit van die Here kom.

7. Die Here laat niks gebeur as Hy dit nie eers voor die tyd vir sy boodskappers gesê het nie.

8. Die leeu het gebrul. Wie is daar wat nie nou bang is nie? My Heer, die Here, het gepraat. Watter profeet sal nie vinnig die boodskap bring nie?

9. Gaan nooi die mense in die paleise van Assirië uit. Gaan roep die mense in die paleise van Egipte. Vra hulle om op die heuwels rondom Samaria te kom staan. Sê vir hulle om te kom kyk hoe deurmekaar alles in die stad is, hoe mense daar verdruk word.

Amos 3