12. Elkeen wat Jesus s’n is en wat lewe soos God van hom verwag, moet weet dat hy ook vervolg sal word. Die rede is dat die slegte mense nie skielik beter gaan word nie.
13. Die klomp skelms gaan net woester en slegter word. Dit is ’n bose kringloop. Hulle lei ander op die verkeerde pad omdat die duiwel húlle op die verkeerde pad gelei het.
14. Maar jy, Timoteus, moet jou nie ’n duim van koers af laat bring nie. Bly by die dinge wat vir jou geleer is en wat jy weet waar is. Jy weet mos wie dit alles vir jou geleer het.
15. Toe jy nog klein was, het jy al die Skrif gelees. Jy kan baie daaruit leer, soos hoe ’n mens se saak met God weer reggemaak kan word deur op Christus Jesus te vertrou.