20. Vroeg die volgende oggend het koning Hiskia die stad se leiers bymekaargemaak. Hulle het na die tempel toe gegaan.
21. Hulle het sewe bulle, sewe skaapramme, sewe lammers en sewe bokramme gebring om te slag. Dit was ’n offer vir die Here. Op hierdie manier wou hulle om verskoning vra vir die sondes van die koning se familie, en ook ter wille van die tempel en die mense van Juda. Priesters uit Aäron se nageslag het die diere op die Here se altaar geoffer.
22. Hulle het toe die beeste geslag en hulle bloed teen die altaar uitgegooi. Daarna het hulle dieselfde met die skaapramme en toe met die lammers gedoen.
23. Die bokramme was bedoel om die sonde weg te neem. Daarom het die priesters die bokke tot voor die koning en die ander mense gebring wat saam met hom daar was. Hulle almal het hulle hande op die bokke gesit.