2 Korintiërs 7:6-10 Die Boodskap (DB)

6. Weet julle, ons groot God wat in staat is om mense op te tel wat in die stof lê, het my ook kom optel uit die diep put waarin ek was. Hy het my bekommernis in ’n oogwink weggevat toe Titus skielik daar opdaag.

7. Hoe bly was ek toe Titus my vertel hoe julle hom met oop arms ontvang en hoe julle hom opgebeur het! Titus het my ook vertel dat julle na my verlang. En hy het bygevoeg dat julle jammer is oor alles wat vroeër tussen ons skeefgeloop het en dat julle oor my bekommerd is. Ek kan nie vir julle sê hoe bly ek was oor dié goeie nuus nie.

8. Ek weet dat ek julle baie omgekrap het in my vorige brief. Vroeër was ek baie spyt daaroor, nou nie meer nie. Dit het op die ou end goed uitgewerk. My brief het julle wel ’n kort rukkie ontstel, maar op die regte manier. Wat ek bedoel, is dat daardie brief julle teruggebring het na God toe.

9. Julle het met al julle hartseer reguit na Hom toe gegaan. Julle het glad nie enige skade as gevolg van my brief gely nie; inteendeel. Daaroor is ek regtig baie bly.

10. Weet julle, die regte soort hartseer, die soort wat God vra, bring ’n mens altyd terug na Hom toe. Dit bring jou by die ware lewe uit. Niemand kan spyt wees wanneer so iets met hulle gebeur nie, of hoe? Aan die ander kant help dit niks as jy jou hartseer vir jouself hou en nie daarmee na God toe gaan nie. Dan is jy op pad na die doderyk toe met jou trane en al.

2 Korintiërs 7