2 Konings 4:28-34 Die Boodskap (DB)

28. “Ag, Meneer,” het sy gekerm, “het ek u gevra vir ’n seun? Nee, ek het gesê u moet my nie vals hoop gee nie.”

29. Elisa het vir Gehasi gesê: “Kry jou reg om dadelik te gaan! Vat my kierie saam. Jy moet met niemand op pad praat nie. Gaan reguit na die kind toe en sit my kierie op sy gesig neer.”

30. Die vrou het egter gesê: “So seker as die Here en u leef, ek sal nie huis toe gaan as u nie saamkom nie!” Elisa het toe saam met haar gegaan.

31. Gehasi het vinnig vooruitgegaan en Elisa se kierie op die kind se gesig neergesit. Niks het egter gebeur nie, daar was geen teken van lewe nie. Hy het teruggegaan na Elisa toe en gesê: “Die kind is nog steeds dood.”

32. Toe Elisa in die huis kom, was die situasie onveranderd. Die liggaampie het steeds op Elisa se bed gelê.

33. Hy het alleen in die kamer ingegaan en die deur gesluit. Toe het hy ernstig tot die Here gebid.

34. Hy het op die kind gaan lê. Hy het met sy kop op die kind se koppie, sy oë oor die kind se ogies en sy hande op die kind se handjies gaan lê. Geleidelik het die liggaampie weer warm geword.

2 Konings 4