2 Konings 3:22-27 Die Boodskap (DB)

22. Toe hulle daardie oggend opstaan, het die son oor die water geskyn; dit het soos bloed gelyk.

23. Die Moabiete het vir mekaar gesê: “Dit is bloed daardie! Die drie leërs het seker onder mekaar begin veg en mekaar uitgewis. Kom ons gaan maak die buit bymekaar!”

24. Toe hulle egter by die Israeliete se kamp kom, het die Israeliete hulle aangeval. Die Moabiete het omgespring en probeer vlug, maar die Israeliete het hulle agtervolg en oorwin.

25. Hulle het die stede vernietig, die landerye vol klippe gegooi, al die putte toegestop en al die goeie bome afgekap. Later het net Kir-Geres, met ’n klipmuur rondom, oorgebly. Dit was egter reeds omsingel en is met klippe bestook.

26. Toe die koning van Moab sien hoe benard hulle situasie was, het hy 700 soldate gevat en probeer deurbreek waar die Edomiete gestaan het. Hulle kon egter nie daarin slaag om uit te kom nie.

27. Toe vat hy sy oudste seun, wat hom as koning sou opvolg, en verbrand hom as offer op die stad se muur. Die woede wat hierdie offer veroorsaak het, het die Israeliete laat onttrek en hulle na hulle land laat teruggekeer.

2 Konings 3