2 Konings 3:16-20 Die Boodskap (DB)

16. Hy het gesê: “Die Here sê: Maak gate hier in die droë vallei.

17. Dit sal binnekort vol water staan. Sonder dat julle die wind hoor waai of reën sien val, sal hier genoeg water vir julle en al die diere wees.

18. Maar dit is net ’n kleinigheid vir die Here. Hy sal julle ook die Moabiete laat oorwin.

19. Julle sal al hulle mooi en versterkte stede inneem. Julle sal al die goeie bome afkap, al die putte opvul en al die bruikbare landerye met klippe bederf.”

20. Die volgende oggend was dit toe ook so: teen die tyd van die oggendoffer het daar soveel water van Edom se kant af gekom dat die hele gebied onder water was.

2 Konings 3