2 Konings 25:8-12 Die Boodskap (DB)

8. Nebusaradan, een van Nebukadnesar se offisiere en vertrouelinge, is gestuur om Jerusalem te gaan vernietig. Dit was op die sewende dag van die vyfde maand in die negentiende jaar wat Nebukadnesar regeer het.

9. Hy het die tempel en die paleis en elke groot gebou in die stad begin afbrand.

10. Sy soldate het Jerusalem se hele stadsmuur van ’n kant af omgegooi en afgebreek.

11. Die res van die mense in Jerusalem, almal wat nog in die stad oor was en dié wat voorheen na die Babiloniërs oorgeloop het, is deur Nebusaradan na Babel toe weggevoer.

12. Net ’n paar van die armstes het in die land gebly om op die lande en in die wingerde te werk.

2 Konings 25