1 Kronieke 26:11-21 Die Boodskap (DB)

11. Van sy ander kinders was Gilkija, die tweede, Tebalja, die derde en Sagaria, die vierde. Gosa het dertien seuns en broers gehad.

12. Hierdie afdelings poortwagte is na hulle leiers vernoem. Net soos die ander Levitiese diensgroepe het hulle ook by die huis van die Here gewerk.

13. Hulle diensbeurte by die verskillende poorte is deur die lot bepaal, ongeag of die familie groot of klein was.

14. Die lot vir die oospoort het op Meselemja geval. Die lot vir die noordpoort het op sy seun Sagaria, ’n baie verstandige raadgewer, geval.

15. Die suidpoort is toegewys aan Obed-Edom, en die voorraadgebou aan sy seuns.

16. Die wespoort is aan Suppim en Gosa toegewys, asook die Salleketpoort op die boonste pad.Die wagbeurte is só ingedeel dat daar

17. ses Leviete by die oospoort was, vier elke dag by die noordpoort, vier elke dag by die suidpoort en elke keer twee by die voorrade.

18. Ses Leviete is elke dag by die wespoort geplaas: vier langs die pad en twee by die plein.

19. Dit was die poortwaggroepe. Hulle was uit die Korag- en die Merarifamilie.

20. Ander Leviete onder leiding van Agija was in beheer van die skatkamers van die tempel en die stoorkamers.

21. Uit die nageslag van Ladan, ’n lid van die Gersonfamilie, was Jegiël die leier.

1 Kronieke 26