1 Kronieke 22:8-13 Die Boodskap (DB)

8. Maar die Here het vir my laat weet: ‘Jy het baie mense in jou groot veldslae doodgemaak. Omdat jy soveel bloed laat vloei het, is jy nie die een wat ’n tempel ter ere van my Naam moet bou nie.

9. Jy sal ’n seun hê wat ’n man van vrede sal wees. Ek sal hom rus gee van die vyandelikhede van sy bure en sy naam sal Salomo wees. Onder sy bewind sal Ek groot rus en vrede vir Israel gee.

10. Hy is die een wat ter ere van my Naam ’n tempel moet bou. Hy sal vir my ’n seun wees en Ek vir hom ’n pa. Ek sal sy koningskap vir altyd in Israel laat aanhou.’

11. “Dus, my seun, mag die Here by jou wees. Mag Hy jou suksesvol maak wanneer jy die tempel volgens sy opdragte vir Hom begin bou.

12. Mag Hy jou wysheid en begrip gee, sodat jy die wet van die Here, die God van Israel, kan uitvoer, terwyl jy oor Israel regeer,

13. want as jy die wette en reëls wat die Here deur Moses vir Israel gegee het, presies uitvoer, sal jy suksesvol wees. Wees sterk en dapper, moenie bang word of moed verloor nie!

1 Kronieke 22