1 Kronieke 12:19-31 Die Boodskap (DB)

19. Toe Dawid saam met die Filistyne teen Saul gaan veg het, het daar ’n groep soldate uit die stam van Manasse by hom aangesluit. Dit het egter nie so uitgewerk nie, want die Filistynse leiers het besluit om Dawid terug te stuur. Hulle het geredeneer: “Dis te gevaarlik. As hy na sy koning Saul toe oorloop, kan dit ons ons lewe kos.”

20. Hier is ’n lys name van die mense uit Manasse wat na Dawid toe oorgeloop het, terwyl hy na Siklag toe op pad was: Adnag, Josabad, Jediael, Migael, Josabad, Elihu en Silletai, elkeen in bevel van omtrent 1 000 soldate van Manasse.

21. Hulle het Dawid help veg, want hulle was goeie soldate en het offisiere in sy leër geword.

22. Daar het dag vir dag mense by Dawid aangesluit om hom te help. Só het sy bende algaande tot ’n baie groot leër gegroei.

23. Hier volg die getalle van gewapende soldate wat hulle in Hebron by Dawid aangesluit het. Hulle was daar om Saul se koningskap aan Dawid oor te dra, soos die Here beveel het.

24. Uit die stam van Juda: 6 800 ten volle gewapende manne met skild en spies;

25. uit die stam van Simeon: 7 100 soldate, gereed om oorlog te maak;

26. uit die stam van Levi: 4 600 soldate;

27. asook Jojada, ’n leier uit die familie van Aäron met 3 700 man by hom

28. en Sadok, ’n jong, strydlustige soldaat met 22 familielede wat almal offisiere was;

29. uit die stam van Benjamin, Saul se stamgenote: 3 000. Die meeste van hulle het tot in hierdie stadium getrou gebly aan Saul.

30. Uit die stam van Efraim: 20 800 soldate, gereed om oorlog te maak. Hulle was beroemd in hulle familie.

31. Uit die halwe stam van Manasse: 18 000 soldate wat spesifiek aangewys is om Dawid te kom koning maak.

1 Kronieke 12