1. Julle het mos ook in julle brief gevra of ’n mens kos mag eet wat aan afgode geoffer is. Dit is waar wat julle sê: “Julle weet wat die kerk alles leer.” Maar as ’n mens dink jy weet so baie, kan dit jou te veel van jouself laat dink. Onthou egter, liefde blaas jou nie so op nie, maar bou liewer ander mense op.
2. Boonop, iemand wat dink hy weet so baie van God se dinge af, weet baiekeer nie dít wat eintlik belangrik is nie.
3. Maar as iemand God liefhet, is hy gedurig in God se gedagtes.
4. Kom ons gesels nou daaroor of ’n Christen kos mag eet wat aan afgode geoffer is. Ons almal weet tog dat afgode nie “regtig” is nie, want daar is net een ware God.
5. Mense praat maklik van “gode” wat glo in die hemel of op die aarde is. So hoor ’n mens van baie verskillende “gode” en “here”.
6. Ons weet egter dat daar net een God is. Alles het deur Hom ontstaan en ons leef net vir Hom. Daar is ook net een Here, naamlik Jesus Christus. Hy is die instrument waardeur alles gemaak is en aan wie ons ook ons bestaan te danke het.
7. Nie al die Christene weet of besef dit nie. Daar is nog van julle Christene wat dink dat die afgode regtig bestaan. As hulle kos eet wat in die afgodstempels geoffer is, pla hulle gewete hulle nog meer as gewoonlik.