1 Korintiërs 14:23-35 Die Boodskap (DB)

23. Kom ons wees realisties: sê nou die hele gemeente is bymekaar en almal praat tegelyk in spesiale tale. Dan kom daar iemand ingestap wat nie in Jesus glo nie en niks verstaan wat in die kerk aangaan nie. Wat dink julle sal hy sê? Wel, ek dink hy sal sê dit lyk vir hom na ’n groot deurmekaarspul.

24. Maar sê nou dieselfde ongelowige persoon wat niks van die Christendom verstaan nie, kom in terwyl julle op ’n verstaanbare manier met mekaar oor die boodskap en wil van God praat, wat sal dan gebeur? Sal hy nie dalk luister en diep getref word nie? Sal hy nie besef dat hy op die verkeerde pad is en dat God so ontevrede met hom is dat God hom gaan straf nie?

25. Dit sal vir hom wees of alles hier diep binne-in hom wat hy voorheen nie verstaan of selfs van geweet het nie, skielik opborrel en vir hom glashelder word. Hy sal net daar op sy knieë neersak en God se Naam grootmaak. Hy sal openlik sê: “God is regtig hier by en tussen julle.”

26. Wat moet dan nou gebeur as julle bymekaarkom? Wel, dit kan gebeur dat elkeen iets het om te doen. Die een wil ’n lied vir God sing, die ander een wil vertel wat hy van Jesus geleer het, ’n ander een het weer iets wat die Here hom spesiaal gewys het. Daar is miskien ook iemand wat in ’n spesiale taal wil praat of wat wil verduidelik wat met die spesiale taal gesê word. Onthou net, elke dingetjie wat gedoen word as die gemeente so saam is, moet krag in die gemeente inblaas. Die hele gemeente moet daardeur sterker gemaak word.

27. Met ander woorde, as iemand in ’n spesiale taal praat, moet dit nie oordryf word nie. Net twee, of op die meeste drie, moet ’n kans kry, en nie almal gelyk nie. Elke keer moet daar iemand wees wat aan die ander kan verduidelik wat die persoon besig is om te sê.

28. As daar nie iemand in die gemeente is wat die spesiale taal verstaan en kan verduidelik wat gesê word nie, moet die een stilbly wat in die spesiale taal wil praat. Hy moet dit maar tussen God en hom hou waar hy alleen is.

29. Twee of drie mense aan wie God sy boodskap gegee het, moet aan die gemeente vertel wat God sê. Die res van die gemeente moet goed luister en versigtig opweeg wat gesê word.

30. As die Here egter ’n spesiale boodskap vir iemand gee wat in die gemeente sit en luister, moet die een wat aan die praat is, eers stilbly.

31. Almal vir wie die Here ’n boodskap gegee het om aan die gemeente te gee, moet ’n kans kry om dit te doen. So sal die hele gemeente van hulle kan leer en moed kan skep.

32. Iemand wat iets van die Here af gekry het om te sê, moet sy kans afwag om dit te sê. God hou nie van ’n deurmekaarspul nie.

33. Hy hou daarvan as dinge mooi en op hulle plek gebeur. Sorg dat dit in die gemeente so gaan.Nou wil ek met julle praat oor iets wat oral in die gemeentes gebeur.

34. Vroue moet nie praat in gemeentebyeenkomste nie. Die wet van die Here gee vir ons riglyne wat hierdie dinge betref. Daar lees ’n mens dat vroue nie in die byeenkoms moet praat nie, maar dat hulle die gesag van die man daar moet erken.

35. Dit is ons gebruik dat elkeen haar man by die huis moet gaan vra as sy iets wil weet. Dit is nie mooi dat die vrou dit sommer in die kerk vir haar man vra en so die erediens deurmekaarkrap nie. Is daar miskien party van julle wat voel dat julle dit nie wil doen nie?

1 Korintiërs 14