1 Konings 9:12-20 Die Boodskap (DB)

12. Hiram het opgewonde na die stede gaan kyk, maar was diep teleurgesteld. Hy het nie van een van hulle gehou nie.

13. Hiram het toe vir Salomo gesê: “My vriend, hierdie stede beteken niks, hulle het geen waarde nie.” Vandag nog word hierdie gebied “Kabul” of “Nikswerd” genoem.

14. Hiram was baie ongelukkig, maar hy het die stede aanvaar. Hy het ook nog 4 000 kilogram goud aan Salomo gestuur.

15. Koning Salomo het mense gedwing om die tempel en die paleis te bou. Hy het hulle ook gedwing om die oostekant van die stad met grond op te vul en ’n stadsmuur te bou. Met dwangarbeiders het hy ook die stede Hasor, Megiddo en Geser herbou.

16. Lank gelede het die Egiptiese koning die stad Geser aangeval, dit ingeneem en toe groot dele daarvan afgebrand. Die koning het dit vir Salomo gegee die dag toe hy met sy dogter getroud is.

17. Salomo het dit aanvaar en Geser heeltemal herbou. Hy het egter ook Bet-Horon-Onder,

18. Baälat, Tamar in die Judese woestyn,

19. sy voorraadstede, die stede vir sy perde en sy waens, en alle ander geboue in Jerusalem, die Libanon en op ander plekke in sy koninkryk met die hulp van dwangarbeiders gebou.

20. Salomo se dwangarbeiders het veral uit die nageslag van die Kanaäniete bestaan. Dit was al daardie groepe wat die Israeliete nie doodgemaak het toe hulle destyds die land ingeneem het nie.

1 Konings 9