1 Konings 8:50-63 Die Boodskap (DB)

50. Vergewe hulle baie sondes en hulle opstand teen U. En gee dat Israel se vyande medelye en deernis met hulle sal hê.

51. Hulle is tog u eiendom wat U uit die smeltoond van Egipte gered het.

52. “Here ons God, mag U altyd u volk en sy koning met groot deernis liefhê. Hoor tog as hulle dag en nag na U om hulp roep.

53. U het hulle tog self gekies. Israel en die koning het U uit al die volke van die wêreld vir U gekies. Hulle is u s’n. Dit is tog wat U vir Moses gesê het toe U hulle uit Egipte gelei het.”

54. Salomo het opgestaan. Hy was nog die hele tyd voor die altaar, waar hy op sy knieë en met uitgestrekte arms gebid het.

55. Toe het hy hardop gebid dat die Here tog naby moes wees aan almal wat daar saamgekom het.

56. Hy het ook gesê: “Loof die Here wat ons ’n land en vrede gegee het. Hy het sy beloftes gehou wat Hy lank reeds gemaak het.

57. Mag die Here so naby aan ons wees soos Hy destyds aan ons voorvaders was. Mag Hy ons nooit sommer los of verlaat nie.

58. Mag Hy ons gehoorsaam maak sodat ons sal doen wat Hy vra, sodat ons uit liefde vir Hom sy gebooie en sy wette sal uitleef.

59. Mag die Here tog altyd hierdie gebed onthou en alles wat ek gevra het, waar maak. Mag Hy sy volk Israel en die koning altyd liefhê en mag Hy elke dag vir hulle sorg.

60. As dit gebeur, sal al die volke van die wêreld begin besef dat die Here God is en dat daar niemand anders soos Hy is nie.

61. Mag julle, die volk van die Here, altyd aan Hom getrou wees. Mag julle, soos vandag, ook môre en oormôre na die Here se wil in sy gebooie en al sy wette luister.”

62. Toe het koning Salomo en al die mense uit blydskap en dankbaarheid vir die Here begin offer.

63. Salomo alleen het 22 000 beeste en 120 000 skape geoffer. So het Salomo en al die mense die tempel daardie dag ingewy.

1 Konings 8