1 Konings 8:46-59 Die Boodskap (DB)

46. “Wanneer u mense teen U gesondig het - en wie is daar wat nie sondig nie? - en U hulle in woede in die hand van die vyand oorgee sodat hulle na ’n ver land in ballingskap weggevoer word, maar hulle roep nogtans tot U,

47. luister dan na u mense se smeekroepe. As hulle in daardie vreemde land berou kry en besef hulle het verkeerd gedoen en dit bely, verhoor dan hulle gebede.

48. As hulle in daardie land waarlik berou het en hulle bid met hulle gesig na hierdie land, hierdie stad en hierdie tempel toe wat ek vir U gebou het,

49. luister dan na hulle gebede. Vergewe hulle en wees opnuut weer lief vir u mense.

50. Vergewe hulle baie sondes en hulle opstand teen U. En gee dat Israel se vyande medelye en deernis met hulle sal hê.

51. Hulle is tog u eiendom wat U uit die smeltoond van Egipte gered het.

52. “Here ons God, mag U altyd u volk en sy koning met groot deernis liefhê. Hoor tog as hulle dag en nag na U om hulp roep.

53. U het hulle tog self gekies. Israel en die koning het U uit al die volke van die wêreld vir U gekies. Hulle is u s’n. Dit is tog wat U vir Moses gesê het toe U hulle uit Egipte gelei het.”

54. Salomo het opgestaan. Hy was nog die hele tyd voor die altaar, waar hy op sy knieë en met uitgestrekte arms gebid het.

55. Toe het hy hardop gebid dat die Here tog naby moes wees aan almal wat daar saamgekom het.

56. Hy het ook gesê: “Loof die Here wat ons ’n land en vrede gegee het. Hy het sy beloftes gehou wat Hy lank reeds gemaak het.

57. Mag die Here so naby aan ons wees soos Hy destyds aan ons voorvaders was. Mag Hy ons nooit sommer los of verlaat nie.

58. Mag Hy ons gehoorsaam maak sodat ons sal doen wat Hy vra, sodat ons uit liefde vir Hom sy gebooie en sy wette sal uitleef.

59. Mag die Here tog altyd hierdie gebed onthou en alles wat ek gevra het, waar maak. Mag Hy sy volk Israel en die koning altyd liefhê en mag Hy elke dag vir hulle sorg.

1 Konings 8