41. “Luister ook na die vreemdeling wat nie deel van u volk is nie, maar in ’n ver en vreemde land van U gehoor het.
42. Die vreemdeling wat van u liefde vir u mense gehoor het en wat toe besluit het om U in hierdie tempel te dien en te aanbid.
43. Hoor tog die gebed van die vreemdeling in u hemelse woonplek. Hoor as hy sy hart in hierdie plek voor U uitstort en verhoor sy gebede. Al die volke van die aarde sal dan na Jerusalem toe wil kom om U te dien. Soos Israel sal hulle U in die tempel wil dien. Al die volke sal dan weet dat U by hierdie tempel wat ek gebou het, aanbid word.
44. “Wanneer Israel op u bevel gaan oorlog maak en hulle bid tot U in ’n vreemde land terwyl hulle hulle gesig in die rigting van die tempel draai,
45. luister dan na hulle gebede in u hemelse woonplek en laat hulle die vyand verslaan.
46. “Wanneer u mense teen U gesondig het - en wie is daar wat nie sondig nie? - en U hulle in woede in die hand van die vyand oorgee sodat hulle na ’n ver land in ballingskap weggevoer word, maar hulle roep nogtans tot U,
47. luister dan na u mense se smeekroepe. As hulle in daardie vreemde land berou kry en besef hulle het verkeerd gedoen en dit bely, verhoor dan hulle gebede.