1 Konings 8:37-42 Die Boodskap (DB)

37. “Wanneer daar hongersnood of die een of ander epidemie in die land is, of ’n verwoestende wind of sprinkaanswerms vernietig die oes, of die vyand verslaan u volk onverwags, of allerlei siektes maai u mense af,

38. hoor dan hulle smeekgebede. As u volk in hulle gebrokenheid hulle hande na U toe uitsteek en in die rigting van hierdie tempel bid,

39. hoor hulle in u hemelse woonplek. Vergewe hulle sondes en help hulle. U alleen ken die donker dieptes van ’n mens se hart en U alleen weet wie opreg is en wie nie.

40. Leer u volk om U lief te hê en U getrou te dien in hierdie land wat U aan hulle voorvaders beloof het.

41. “Luister ook na die vreemdeling wat nie deel van u volk is nie, maar in ’n ver en vreemde land van U gehoor het.

42. Die vreemdeling wat van u liefde vir u mense gehoor het en wat toe besluit het om U in hierdie tempel te dien en te aanbid.

1 Konings 8