1 Konings 8:3-21 Die Boodskap (DB)

3. Toe almal daar was, het die priesters die ark waarin die bewys van die ooreenkoms van God met sy volk was, opgetel

4. en dit na die tempel toe gedra. Van die Leviete het toe gekom en die tent waar die Here altyd teenwoordig was, met al sy toebehore ook in die tempel gaan neersit.

5. Salomo en almal saam met hom het toe voor die verbondsark, wat hulle voor die tempel neergesit het, gaan staan en begin offer. Daar was soveel kleinvee en beeste wat geoffer is dat dit nie eens getel kon word nie.

6. Daarna het die priesters weer die verbondsark opgetel en dit binne-in die tempel ingedra. Daar het hulle dit baie versigtig onder die gerubs se vlerke in die binneste heiligdom, die Allerheiligste, gaan neersit.

7. Die verbondsark, asook die houtpale waarmee dit gedra is, het net mooi onder die gerubs se uitgestrekte vlerke ingepas.

8. Die houtpale was egter ’n bietjie te lank en ’n stukkie het by die Allerheiligste uitgesteek. ’n Mens kon dit net sien as jy vlak voor die Allerheiligste gestaan het. Die pale is vandag nog daar.

9. Daar was niks in die verbondsark nie, behalwe die twee kliptafels wat Moses nog by Sinai in die ark gesit het. By Sinai het die Here met Israel na die uittog uit Egipte ’n ooreenkoms gesluit.

10. Toe die priesters uit die heiligdom gekom het, het ’n helder, wit wolk die huis van die Here gevul. Almal het die teenwoordigheid van die Here aangevoel.

11. Dit was so oorweldigend dat die priesters nie eens hulle werk kon doen nie.

12. Op daardie oomblik is Salomo so deur die Here se nabyheid aangegryp dat hy gesê het: “Here, U is by ons en tog is U ook ver. U is teenwoordig en tog woon U in die donkerte.

13. Here, hierdie wonderlike tempel het ek vir U gebou. Dit moet vir altyd u woonplek wees.”

14. Terwyl die mense nog in verwondering gestaan het, het Salomo na hulle toe gedraai en vir hulle gebid.

15. Hy het gesê: “Ons wil die Here, die God van Israel, loof, want Hy het sy belofte aan Dawid gehou.

16. Sedert die uittog uit Egipte het Hy nie vir Hom ’n stad gekies nie; ’n stad waarin die tempel gebou kon word en Hy aanbid kon word. Toe het Hy Dawid as koning aangestel.

17. My pa, Dawid, wou graag vir die Here ’n plek bou waar Hy aanbid kon word.

18. Die Here het hom egter gekeer om dit te doen.

19. Dawid se bedoeling was opreg en vir die Here was dit mooi, maar Hy het gesê dat Dawid se seun vir Hom ’n tempel sou bou.

20. En hoe getrou is die Here nie! Ek het in my pa se plek koning geword en ek kon die tempel vir die Here bou. So het die Here sy belofte nagekom.

21. Ek het ook vir die verbondsark ’n plek in die tempel gemaak. En in die ark is daar nog steeds die kliptafels wat die Here by Sinai gegee het toe Hy met ons voorouers ’n ooreenkoms gesluit het. Dit was nadat Hy hulle uit Egipte weggelei het.”

1 Konings 8