1 Konings 8:14-26 Die Boodskap (DB)

14. Terwyl die mense nog in verwondering gestaan het, het Salomo na hulle toe gedraai en vir hulle gebid.

15. Hy het gesê: “Ons wil die Here, die God van Israel, loof, want Hy het sy belofte aan Dawid gehou.

16. Sedert die uittog uit Egipte het Hy nie vir Hom ’n stad gekies nie; ’n stad waarin die tempel gebou kon word en Hy aanbid kon word. Toe het Hy Dawid as koning aangestel.

17. My pa, Dawid, wou graag vir die Here ’n plek bou waar Hy aanbid kon word.

18. Die Here het hom egter gekeer om dit te doen.

19. Dawid se bedoeling was opreg en vir die Here was dit mooi, maar Hy het gesê dat Dawid se seun vir Hom ’n tempel sou bou.

20. En hoe getrou is die Here nie! Ek het in my pa se plek koning geword en ek kon die tempel vir die Here bou. So het die Here sy belofte nagekom.

21. Ek het ook vir die verbondsark ’n plek in die tempel gemaak. En in die ark is daar nog steeds die kliptafels wat die Here by Sinai gegee het toe Hy met ons voorouers ’n ooreenkoms gesluit het. Dit was nadat Hy hulle uit Egipte weggelei het.”

22. Terwyl al die mense daar was, het Salomo voor die altaar gaan staan. Hy het sy arms opgelig en begin bid.

23. “Here, U is die God van Israel. Daar is niemand soos U in die hemel of op die aarde nie. U is aan u verbond met ons getrou en U het u mense met ’n groot deernis lief. U is lief vir elkeen wat U dien.

24. U het u belofte aan my pa, Dawid, nagekom. Vandag het elke woord van daardie belofte waar geword.

25. Here, God van Israel, maak asseblief tog ook u belofte waar dat daar altyd een van my pa se kinders oor Israel sal regeer. Help elke koning dat hulle U soos my pa sal liefhê en volgens u woord sal leef.

26. Laat alles tog waar word wat U vir Dawid, my pa, oor die jare beloof het.”

1 Konings 8