1 Konings 7:11-25 Die Boodskap (DB)

11. Bo-op hierdie klippe is ander klippe, wat presies volgens maat gekap is, asook stroke sederhout, gesit.

12. Die mure rondom die groot voorhof het uit drie lae gekapte klip en een ry sederhoutbalke bestaan. Die mure van die binneste voorhof van die tempel, asook die paleis se voorportaal, is op dieselfde manier gebou.

13. Koning Salomo het ’n man met die naam Hiram gehuur. Hy het in Tirus gebly en was ’n uitstekende vakman. Hy het veral in bronswerk gespesialiseer.

14. Hiram se pa het in Tirus gewoon, maar is vroeg dood. Hy was ook ’n bekende vakman in bronswerk. Sy ma was ’n vrou uit die stam van Naftali. Hiram was baie slim. Hy het die vaardigheid, kennis en insig gehad om enigiets uit brons te maak. Salomo het hom gehuur omdat Hiram enigiets kon doen wat hulle hom gevra het.

15. Hiram se eerste taak was om twee groot pilare uit brons te giet. Hulle was nege meter hoog en ses meter in omtrek.

16. Toe het hy twee bronsvorms van twee en ’n half meter gegiet en dit bo-op die pilare gesit.

17. Elke vorm bo-op ’n pilaar is met gevlegte kettingwerk versier.

18. Op elke bronsvorm is twee rye granate van brons gesit.

19. Die bronsvorms is in die vorm van ’n lelie gebou en elkeen was ongeveer twee meter hoog.

20. Aan die bokant van die bronsvorms was daar 200 granate in twee rye gerangskik.

21. Hiram het die twee groot bronspilare voor die ingang van die tempel opgerig. Die een aan die suidekant het hy Jakin en die een aan noordekant Boas genoem.

22. Bo-op die pilare was daar dan die bronsvorms wat soos lelies gelyk het.

23. Hierna het Hiram al sy aandag aan die bronswaterbak gewy. Hierdie waterbak was heeltemal rond, vyf meter in deursnee, twee en ’n half meter hoog, en met ’n omtrek van vyftien meter.

24. Net onder die waterbak se rand was daar twee rye kalbasse wat reg rondom geloop het en wat saam met die waterbak uit een stuk gegiet is.

25. Die waterbak het op twaalf bronsbeeste se rûe gerus. Drie het na die noorde, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste toe gekyk.

1 Konings 7