1 Konings 6:21-35 Die Boodskap (DB)

21. Salomo het ook die binneste heiligdom met suiwer goud bedek. Voor die ingang na dié deel is daar ’n ketting van suiwer goud gespan.

22. Nie net die binneste heiligdom nie, maar die hele tempel is met goud afgewerk. Ook die altaar is met goud oorgetrek.

23. Salomo het twee gerubs van olyfhout laat maak en dit in die binneste heiligdom gesit. Elke gerub was vyf meter hoog.

24. Elke gerub se vlerke was twee en ’n half meter lank, dus vyf meter van die een punt van die vlerk tot die ander punt.

25. Albei gerubs was ewe groot en het ook presies dieselfde gelyk.

26. Albei gerubs was vyf meter hoog.

27. Salomo het die gerubs in die binneste heiligdom gesit. Die punt van die een se vlerk het aan die een muur geraak en die ander gerub se vlerkpunt het weer aan die ander muur geraak. Presies in die middel van die vertrek het die gerubs se ander vlerke aan mekaar geraak.

28. Salomo het ook die twee gerubs met suiwer goud oorgetrek.

29. Teen die tempel se binnemure het Salomo gerubs, palms en blomknoppe gehang wat in hout uitgekerf is.

30. In sommige vertrekke is die vloer met goud oorgetrek.

31. ’n Dubbeldeur van olyfhout is by die ingang van die Allerheiligste gesit. Die kosyn het die vorm van ’n vyfhoek gehad.

32. Op albei deure is figure van gerubs, palms en blomknoppe uitgesny en alles is met goud oorgetrek.

33. Salomo het ook twee dubbeldeure by die ingang van die voorste heiligdom geplaas. Die kosyn was ook van olyfhout en het ’n vierhoek gevorm.

34. Albei die dubbeldeure was van sipreshout en op elke deur is ’n groot sirkel uitgesny.

35. Salomo het ook gerubs, palms en blomknoppe op die deure uitgesny en dit toe met goud oorgetrek. Die goud is in die uitgesnyde dele ingedruk.

1 Konings 6