10. Die platform wat hy buite-om die tempel gebou het, was net oor die twee meter hoog. Hy het die platform met groot sederbalke aan die tempel se muur vasgemaak.
11. Die Here het vir Salomo gesê:
12. “As jy My liefhet en elke dag my wil uitleef, sal Ek vir jou doen wat Ek jou pa, Dawid, beloof het.
13. Ek sal in die midde van my volk woon en altyd in die tempel teenwoordig wees. Ek sal Israel nooit verlaat nie.”
14. Salomo het toe die tempel klaar gebou.
15. Die binnemure van die tempel is van bo tot onder met panele van sederhout bedek. Die hele vloer was van sipresplanke.
16. Aan die agterkant van die tempel was daar ’n kamer van tien meter wat die Allerheiligste genoem is. Dit was van die vloer tot die dak met sederhout afgewerk.
17. Uit die Allerheiligste het ’n mens in ’n ander groot kamer ingestap. Dit is die voorste heiligdom genoem en was twintig meter lank.
18. En as ’n mens uit die voorste heiligdom gestap het, het jy in die binneste heiligdom gekom. Dit was die plek waar die verbondsark van die Here gestaan het.
19. Dit is aan die binnekant met sederhout uitgevoer. Op die houtpanele is daar kalbasse en blomknoppe uitgesny. Alles was so netjies met sederhout uitgevoer dat ’n mens nie die klip kon sien nie.
20. Hierdie binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Voor die binneste heiligdom was daar ’n altaar wat Salomo met suiwer goud oorgetrek en met sederhout versier het.
21. Salomo het ook die binneste heiligdom met suiwer goud bedek. Voor die ingang na dié deel is daar ’n ketting van suiwer goud gespan.
22. Nie net die binneste heiligdom nie, maar die hele tempel is met goud afgewerk. Ook die altaar is met goud oorgetrek.
23. Salomo het twee gerubs van olyfhout laat maak en dit in die binneste heiligdom gesit. Elke gerub was vyf meter hoog.
24. Elke gerub se vlerke was twee en ’n half meter lank, dus vyf meter van die een punt van die vlerk tot die ander punt.
25. Albei gerubs was ewe groot en het ook presies dieselfde gelyk.
26. Albei gerubs was vyf meter hoog.
27. Salomo het die gerubs in die binneste heiligdom gesit. Die punt van die een se vlerk het aan die een muur geraak en die ander gerub se vlerkpunt het weer aan die ander muur geraak. Presies in die middel van die vertrek het die gerubs se ander vlerke aan mekaar geraak.
28. Salomo het ook die twee gerubs met suiwer goud oorgetrek.