1 Konings 20:29-32 Die Boodskap (DB)

29. Sewe dae lank het die twee magte net vir mekaar gelê en loer. Niks het gebeur nie, maar op die sewende dag het die groot geveg toe begin. Israel het vinnig toegeslaan en op die een dag 100 000 Aramese soldate doodgemaak.

30. Toe die Arameërs besef hulle gaan die oorlog verloor, het hulle na Afek toe gevlug. Daar het ’n groot muur op hulle omgeval en ’n verdere 27 000 soldate gedood. Ben-Hadad was ook in Afek en het in groot angs van kamer tot kamer gevlug.

31. Na ’n ruk het Ben-Hadad se amptenare vir hom gesê: “Meneer, so kan dit nie aanhou nie. Gee oor. Ons het gehoor die koning van Israel is ’n genadige mens. Dalk sal hy ons lewe spaar. Kom ons maak swart rousakke om ons heupe vas en draai toue om ons nek. Dan stap ons oor na die koning van Israel toe.”

32. Hulle het toe ’n rousak om die heupe vasgemaak, toue om die nek gedraai en so is hulle na Agab toe. Hulle het vir hom gesê: “U Majesteit, u dienskneg Ben-Hadad smeek dat u sy lewe sal spaar.” “Leef hy dan nog? Hy is vir my soos ’n broer,” het Agab geantwoord.

1 Konings 20