1 Konings 2:30-45 Die Boodskap (DB)

30. Benaja is na die tent toe en het vir Joab gesê: “Die koning sê jy moet buitentoe kom.” “Nooit nie,” het Joab gesê. “As ek dan moet sterf, sterf ek net hier.” Benaja is daar weg en het die koning alles vertel wat Joab gesê het.

31. “Doen dan wat Joab sê jy moet doen,” het Salomo geantwoord. “Maak hom daar op die plek dood en begrawe hom dan. Ek en my pa se kinders sal dan nie meer verantwoordelik gehou kan word vir Joab se moord op twee van my pa se generaals nie.

32. Met Joab sal presies gebeur wat hy destyds met Abner, die hoof van Israel se leër, en Amasa, die hoof van Juda se troepemag, gedoen het. Sonder my pa se medewete het hy twee onskuldige mense doodgemaak.

33. Joab se nageslag sal vir ewig die gevolge van hierdie verraderlike moord moet dra. Die Here sal egter altyd naby die kinders van Dawid wees wat oor Israel regeer.”

34. Benaja is onmiddellik na die tent toe. Hy het Joab net daar doodgemaak en hom by sy huis in die woestyn laat begrawe.

35. Salomo het Benaja in die plek van Joab as hoof van die leër aangestel terwyl Sadok, die priester, Abjatar se take oorgeneem het.

36. Daarna het Salomo Simeï laat kom en vir hom gesê: “Jy kan vir jou ’n huis in Jerusalem bou, maar jy mag nooit die stad verlaat nie.

37. As jy ooit buite Jerusalem gaan of selfs maar deur die stroompie hier onder in die Kidrondal loop, is jy dood. En dit sal dan jou eie skuld wees.”

38. “Dit is goed so, U Majesteit,” het Simeï geantwoord. “Ek sal maak soos u sê.” Simeï het in Jerusalem gaan woon en ’n lang tyd daar gebly.

39. Drie jaar later het twee van Simeï se slawe weggeloop. Hulle het vir Akis, die seun van Maok en die koning van Gat, vir meer geld gaan werk.

40. Toe Simeï hiervan hoor, was hy woedend. Sonder om verder te dink het hy sy donkies gepak en is na koning Akis toe in Gat. Hy wou ten alle koste sy slawe terugkry.

41. Toe Salomo hiervan hoor, was die gort gaar. Hy het Simeï laat kom en gesê:

42. “Jy het my voor die Here beloof dat jy Jerusalem nooit sal verlaat nie. Ek het jou gewaarsku as dit gebeur, gaan jy met jou lewe betaal. Het jy nie destyds ingestem en gesê dat jy my bevel sal gehoorsaam nie?

43. “Hoekom het jy nie jou belofte nagekom nie? Waarom was jy ontrou?

44. “Jy onthou nog al die slegte dinge wat jy vir my pa gesê het. Hiervoor gaan die Here jou vandag straf. Met jou sal dit van nou af net sleg gaan.

45. Die Here sal egter by my wees en Hy sal Dawid se troon tot in ewigheid beskerm.”

1 Konings 2