1 Konings 18:4-21 Die Boodskap (DB)

4. (Toe Isebel op ’n keer die Here se profete wreed vervolg het, het Obadja 100 van hulle versteek. Hy het hulle in twee groepe van 50 elk in spelonke weggesteek en elke dag vir hulle kos en water gestuur.)

5. Agab het vir Obadja gesê hulle moet deur die hele land reis en by elke fontein en spruit vir ’n groenigheidjie gaan soek. As hulle genoeg kon kry, was dit nie nodig om al die perde en muile dood te maak nie.

6. Hulle het toe die land in twee verdeel. Agab het in die een deel en Obadja in die ander deel gaan soek.

7. Terwyl Obadja nog so ry, sien hy skielik ’n man in die verte. Toe hy naby kom, het hy die man herken, voor hom op sy knieë neergeval en gesê: “Meneer Elia, is dit werklik u?”

8. “Ja, dit is ek,” het Elia gesê. “Gaan sê vir Agab ek is terug.”

9. “Wat het ek gedoen om dit te verdien?” het Obadja gesê. “Agab sal my in die tronk stop en my doodmaak as ek dit vir hom sê.

10. Die Here weet dat ek die waarheid praat. Agab soek oral na u. Daar is nie ’n land of volk waar hy nie gesoek het nie. Elke koning moes sweer dat hy u nie êrens wegsteek nie.

11. En nou sê u ek moet vir die koning gaan sê u is hier.

12. Sê nou ek gaan, en net as ek my rug draai, neem die Gees van die Here u weg na wie weet waar! Wat dan? As ek vir Agab sê u wag hier, maar as hy kom, is u weg, maak hy my op die plek dood. Nee, meneer Elia, ek doen dit nie. Ek het ook die Here lief en dien Hom van my kleintyd af, maar dit doen ek nie.

13. Miskien weet u dit nie, maar toe Isebel destyds die Here se profete vermoor het, het ek 100 van hulle in twee groepe van 50 elk in ’n spelonk weggesteek. Elke dag het ek vir hulle brood en water laat kry.

14. En nou kom vra u my nog om vir die koning te gaan sê u is hier. Hy maak my met sy eie hande dood! Nee, Meneer!”

15. “Ek belowe jou in die Naam van die magtige Here wat ek dien dat ek net hier vir Agab sal wag,” het Elia gesê.

16. Obadja is daar weg en het vir Agab gaan sê waar Elia is. Agab is onmiddellik na Elia toe.

17. Toe Agab hom sien, het hy vir Elia gesê: “Ja, jou onrusstoker. Al wat jy in Israel doen, is om moeilikheid te maak.”

18. “Dit is nie ek wat al die ellende in Israel veroorsaak het nie, U Majesteit, maar u en u pa,” het Elia gesê. “Dit is u wat die Here verlaat en Baäl aanbid het.

19. Gebruik nou u gesag en laat die hele Israel saam met my op die berg Karmel bymekaarkom. Bring ook die 450 profete van Baäl saam, asook die 400 profete van Asjera vir wie Isebel kos en klere gee.”

20. Agab het toe die hele Israel en al die Baälprofete beveel om saam op Karmel bymekaar te kom.

21. Toe almal daar bymekaar was, het Elia vir hulle gesê: “Wanneer gaan julle besluit vir wie julle wil dien? As die Here die ware God is, volg Hom. Maar as julle Baäl as julle god wil dien, doen dit dan. Maak net vandag ’n keuse.” Die volk het doodstil gesit en nie ’n woord gesê nie.

1 Konings 18