7. Jerobeam was baie bly en het vir die profeet gesê: “Kom saam met my huis toe. Daar kan jy ’n bietjie rus en ek wil sommer ook vir jou ’n geskenk gee.”
8. “Nee, Meneer,” het die profeet gesê, “al gee u my ook die helfte van u besittings, ek gaan nie saam met u nie. Ek mag hier niks eet of drink nie.”
9. Die profeet het presies gesê wat die Here vir hom gesê het. Hy moes niks van die koning vat nie en hy moes ook met ’n ander pad teruggaan huis toe.
10. Hy is toe met ’n ander pad van Bet-El af weg.
11. Daar was ook ’n ander en ouer profeet in Bet-El. Sy seuns het hom alles vertel wat die profeet uit Juda gesê en gedoen het.
12. “Watter pad het die man gevat?” het die ouer profeet gevra. Sy seuns het hom so vaagweg die pad beduie.
13. Die ouer profeet se seuns moes dadelik vir hom ’n donkie opsaal en hy is toe agter die man uit Juda aan.
14. Na ’n ruk het die ouer profeet hom onder ’n groot boom gekry. “Is jy die man van God uit Juda?” het die ouer man gevra.“Ek is,” het hy gesê.
15. “Kom saam met my huis toe. Ek sal jou lekker kos gee en jy kan ook ’n bietjie rus.”
16. “Ongelukkig kan ek nie, Meneer,” het die profeet uit Juda gesê. “Ek mag nie saam met u huis toe gaan en by u eet nie.
17. Die Here het my uitdruklik belet om enigiets hier te eet of te drink. Ek moes selfs nie eers met dieselfde pad teruggaan as wat ek gekom het nie.”
18. Maar die ouer profeet het hom geantwoord: “Komaan, ek is ook ’n profeet, nes jy, en die Here het vir my gesê om jou saam te vat huis toe en vir jou kos te gee.” Die ou man het egter gelieg.
19. Die man uit Juda is toe saam met hom daar weg en het saam met die ouer profeet by sy huis geëet en gedrink.
20. Terwyl hulle nog so by die tafel sit, het die Here skielik deur die ouer profeet met die man uit Juda gepraat.
21. “Jy het verkeerd gedoen,” het die Here gesê.
22. ‘‘Jy het nie gedoen wat Ek vir jou gesê het nie. Jy het sommerso saam met hierdie man teruggegaan en in sy huis geëet en water gedrink. Jy het jou deur die ou man laat mislei. Binnekort sal jy sterf en jy sal nie by jou mense begrawe word nie.”