15. “Kom saam met my huis toe. Ek sal jou lekker kos gee en jy kan ook ’n bietjie rus.”
16. “Ongelukkig kan ek nie, Meneer,” het die profeet uit Juda gesê. “Ek mag nie saam met u huis toe gaan en by u eet nie.
17. Die Here het my uitdruklik belet om enigiets hier te eet of te drink. Ek moes selfs nie eers met dieselfde pad teruggaan as wat ek gekom het nie.”
18. Maar die ouer profeet het hom geantwoord: “Komaan, ek is ook ’n profeet, nes jy, en die Here het vir my gesê om jou saam te vat huis toe en vir jou kos te gee.” Die ou man het egter gelieg.
19. Die man uit Juda is toe saam met hom daar weg en het saam met die ouer profeet by sy huis geëet en gedrink.
20. Terwyl hulle nog so by die tafel sit, het die Here skielik deur die ouer profeet met die man uit Juda gepraat.
21. “Jy het verkeerd gedoen,” het die Here gesê.
22. ‘‘Jy het nie gedoen wat Ek vir jou gesê het nie. Jy het sommerso saam met hierdie man teruggegaan en in sy huis geëet en water gedrink. Jy het jou deur die ou man laat mislei. Binnekort sal jy sterf en jy sal nie by jou mense begrawe word nie.”
23. Nadat hulle klaar geëet het, het die ou man die profeet uit Juda se donkie opgesaal en hy is daar weg.
24. Op pad het ’n leeu hom gevang en doodgebyt. Die Judese profeet het dood langs die pad gelê terwyl die donkie en die leeu langs sy lyk gestaan het.
25. Mense wat verbygestap het, kon hulle oë nie glo nie. Langs die dooie man het die leeu en die donkie rustig gestaan. Hulle het dit toe oral in Bet-El loop en vertel.
26. Toe die ouer profeet daarvan hoor, het hy gesê: “Dit is mos die man uit Juda wat nie gedoen het wat die Here vir hom gesê het nie. Vir sy straf het ’n leeu hom nou doodgemaak. Dit het gebeur soos die Here vir hom gesê het.”
27. Hy het onmiddellik sy seuns beveel om vir hom ’n donkie op te saal.
28. Na ’n ruk het hy by die plek aangekom. Die leeu en die donkie het nog steeds langs die dooie man gestaan. En die leeu het nie die man se liggaam verbrysel of die donkie opgevreet nie.
29. Die ou man het die lyk op sy donkie gelaai en Bet-El toe gebring. Hy wou oor hom rou en hom begrawe.
30. Hy het die man uit Juda in sy eie graf begrawe en hulle het oor hom getreur.