1 Konings 13:1-20 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het ’n profeet uit Juda na Israel gestuur. Toe hy Bet-El binnekom, het Jerobeam net by die altaar gaan staan en die offervuur aangesteek.

2. Die profeet het toe op bevel van die Here vir die altaar gesê: “Altaar, die Here sê daar sal op jou nog verskriklike dinge gebeur. Uit Dawid se nageslag sal iemand gebore word met die naam Josia. En op jou sal hy die priesters doodmaak wat hier geoffer het. Op jou sal hy ook die bene van baie mense verbrand.”

3. Die profeet het verder gesê: “Iets ergers gaan nog gebeur. Dit sal die teken wees dat die Here gepraat het. Hierdie altaar sal in ’n klomp stukke breek en die as van al die offers sal oral deur die wind verstrooi word.”

4. Toe Jerobeam dit hoor, was hy woedend en het gesê: “Gryp die man.” Op daardie oomblik het die koning se hand heeltemal styf geword. Hy kon dit nie weer terugtrek nie.

5. Skielik het die altaar ineengestort en die as van die offers is oral versprei, net soos die profeet op bevel van die Here gesê het.

6. Jerobeam het benoud vir die profeet gesê: “Vra asseblief die Here jou God om my hand gesond te maak.” Die profeet het die Here gesmeek en die koning se hand was weer normaal.

7. Jerobeam was baie bly en het vir die profeet gesê: “Kom saam met my huis toe. Daar kan jy ’n bietjie rus en ek wil sommer ook vir jou ’n geskenk gee.”

8. “Nee, Meneer,” het die profeet gesê, “al gee u my ook die helfte van u besittings, ek gaan nie saam met u nie. Ek mag hier niks eet of drink nie.”

9. Die profeet het presies gesê wat die Here vir hom gesê het. Hy moes niks van die koning vat nie en hy moes ook met ’n ander pad teruggaan huis toe.

10. Hy is toe met ’n ander pad van Bet-El af weg.

11. Daar was ook ’n ander en ouer profeet in Bet-El. Sy seuns het hom alles vertel wat die profeet uit Juda gesê en gedoen het.

12. “Watter pad het die man gevat?” het die ouer profeet gevra. Sy seuns het hom so vaagweg die pad beduie.

13. Die ouer profeet se seuns moes dadelik vir hom ’n donkie opsaal en hy is toe agter die man uit Juda aan.

14. Na ’n ruk het die ouer profeet hom onder ’n groot boom gekry. “Is jy die man van God uit Juda?” het die ouer man gevra.“Ek is,” het hy gesê.

15. “Kom saam met my huis toe. Ek sal jou lekker kos gee en jy kan ook ’n bietjie rus.”

16. “Ongelukkig kan ek nie, Meneer,” het die profeet uit Juda gesê. “Ek mag nie saam met u huis toe gaan en by u eet nie.

17. Die Here het my uitdruklik belet om enigiets hier te eet of te drink. Ek moes selfs nie eers met dieselfde pad teruggaan as wat ek gekom het nie.”

18. Maar die ouer profeet het hom geantwoord: “Komaan, ek is ook ’n profeet, nes jy, en die Here het vir my gesê om jou saam te vat huis toe en vir jou kos te gee.” Die ou man het egter gelieg.

19. Die man uit Juda is toe saam met hom daar weg en het saam met die ouer profeet by sy huis geëet en gedrink.

20. Terwyl hulle nog so by die tafel sit, het die Here skielik deur die ouer profeet met die man uit Juda gepraat.

1 Konings 13